Organisasie, beginsels en filosofie
Praag Manifes van die beweging vir die internasionale taal Esperanto
Ons, die lede van die węreldwye beweging ter bevordering van Esperanto, rig hierdie manifes aan alle regerings, internasionale organisasies en mense van goeie wil, verklaar ons voorneme om standvastig voort te werk aan die volgende doeleindes en nooi elke organisasie en individu uit om hul by ons strewe aan te sluit.
Esperanto, in 1887 gelanseer as 'n projek om 'n hulptaal vir internasionale kommunikasie te skep, het vinnig ontwikkel tot 'n lewende nuansryke taal wat reeds meer as 'n eeu lank funksioneer om mense oor grense van taal en kultuur heen te verbind. Intussen het die doelstellings van sy sprekers nie belang en aktualiteit verloor nie. Nóg die węreldwye gebruik van 'n paar nasionale tale, nóg vordering in die kommunikasietegniek, nóg die ontdekking van nuwe metodes van taalonderrig sal waarskynlik die volgende beginsels verwesenlik, wat ons noodsaaklik ag vir regverdige en doeltreffende taalgebruik.
1. Demokrasie
'n Kommunikasiestelsel wat sommige mense lewenslank bevoorreg, maar van andere vereis dat hulle jarelank energie inspan om 'n laer vlak van taalbeheersing te bereik, is fundamenteel ondemokraties. Hoewel Esperanto, soos elke taal, nie volmaak is nie, oortref dit verreweg elke mededinger op die gebied van gelykwaardige, węreldwye kommunikasie.
Ons meen dat taalongelykheid kommunikasie-ongelykheid op all vlakke tot gevolg het, insluitend op internasionale vlak. Ons is 'n beweging vir demokratiese komunikasie.
2. Internasionale Opvoeding
Elke etniese taal is gebonde aan 'n bepaalde kultuur en 'n bepaalde volk of land. Byvoorbeeld, die leerling wat Engels leer, leer van die kultuur, geografie en politiek van die Engelstalige lande, hoofsaaklik die VSA en Groot-Brittanje. Die leerling wat Esperanto leer, leer van 'n węreld sonder grense, waar elke land as tuiste voorgestel word.
Ons meen, dat onderrig deur middel van enige etniese taal gebonde is aan 'n bepaalde węreldaanskouing. Ons is 'n beweging vir internasionale opvoeding.
3. Pedagogiese effektiwiteit
Slegs 'n klein persentasie van diegene wat 'n vreemde taal aanleer slaag daarin om dit werklik te bemeester. Volledige beheersing van esperanto is moontlik selfs deur middel van selfstudie. Verskeie studies het verslag gelewer oor die propedeutiese effek wat Esperanto op die leer van ander tale het. Esperanto word ook as kerndeel aanbeveel in kursusse wat leerlinge taalbewus maak.
Ons meen dat die moeilikheid van die etniese tale altyd 'n belemmering sal wees vir vele leerlinge wat tog voordeel sou trek uit 'n tweede taal. Ons is 'n beweging vir effektiewe taalonderrig.
4. Meertaligheid
Die Esperanto-gemeenskap is een van die min taalgemeenskappe op węreldskaal, waarvan die sprekers sonder uitsondering twee- of meertalig is. Elke lid van dié gemeenskap het dit op hulself geneem om ten minste een vreemde taal te leer tot op spreeksvlak. In vele gevalle lei dit tot die kennis van en die liefde vir ander tale, en in die algemeen tot 'n wyer persoonlike horison.
Ons meen, dat die sprekers van alle tale, groot of klein, behoort te beskik oor die werklike kans om 'n tweede taal hul eie te maak tot op 'n hoë vlak van kommunikasie. Ons is 'n beweging wat dié kans voorsien.
5. Taalregte
Die ongelyke magsverdeling tussen die tale is 'n resep vir voortdurende taalonveiligheid, of regstreekse taalonderdrukking by 'n groot deel van die węreldbevolking. In die Esperanto-gemeenskap ontmoet die lede van groot en klein, amptelike en nie-amptelike tale op neutrale grond, danksy die wedersydse gewilligheid om mekaar tegemoet te kom. So 'n ewewig tussen taalregte en verantwoordelikhede lewer 'n presedent om ander oplossings vir taalongelykheid en -konflikte te ontwikkel en te evalueer.
Ons meen, dat die die waarborge van gelyke behandeling ongeag taal, wat in soveel internasionale dokumente uitgespreek word, deur die groot magsverskille tussen die tale ondermyn word. Ons is 'n beweging vir taalregte.
6. Taaldiversiteit
Die nasionale regerings neig daartoe om die groot verskeidenheid van tale in die węreld te sien as 'n belemmering vir kommunikasie en ontwikkeling. Vir die Esperanto-gemeenskap, is die taalverskeidenheid 'n voortdurende en onmisbare bron van rykdom. Gevolglik is elke taal, net soos elke lewende spesie, al waardevol op sigself en verdien beskerming en ondersteuning.
Ons meen dat die politiek van kommunikasie en ontwikkeling, indien dit nie op respek vir en onstersteuning van alle tale gebaseer is nie, lei tot die uitsterwing van die meerderheid van die tale van die węreld. Ons is 'n beweging vir taalverskeidenheid.
7. Emansipasie van mense
Elke taal bevry sy sprekers deur aan hulle die moontlikheid te gee om onderling te kommunikeer, maar beperk hulle terselfdertyd deur kommunikasie met andere te belemmer. Beplan as 'n universele kommunikasiemiddel, is Esperanto een van die grootste funksionerende projekte vir die emansipasie van mense - 'n projek om elke mens in staat te stel om as individu in die menslike gemeenskap deel te neem, met stewige wortels in hul plaaslike kultuur en taalidentiteit, maar om nie daardeur beperk te word nie.
Ons meen dat die ekslusiewe gebruik van etniese tale onvermydelik belemmeringe opwerp vir die vryheid van uitdrukking, kommunikasie en assosiasie. Ons is 'n beweging vir die emansipasie van mense.
|

Die Wêreld Esperantovereniging (UEA)

Wêreld Jeug Esperanto Organisasie (TEJO)

EASA het die Wêreld Esperantovereniging by die Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in JHB verteenwoordig

Toutrek by die Jaarvergadering
|